‘Groot druk kom op skole’

’n Hofbeslissing dat kinders wat onwettig in die land is in openbare skole opgeneem móét word, gaan groot druk op ’n reeds oorlaaide openbare onderwysstelsel plaas.

Dit is die reaksie van onderwysorganisasies op die uitspraak vandeesweek in die Pretoriase hooggeregshof.

Ingevolge die beslissing moet skole kinders inneem wat van hul ouers of wettige voogde geskei is en net deur ’n volwasse familielid vergesel word. Dit verwys ook na kinders wat die departement van binnelandse sake nie as asielsoekers registreer nie.

Dié kinders is in die verlede toegang tot Suid-Afrikaanse skole geweier en hoofde met regstappe gedreig as hulle “onwettige” leerlinge sou toelaat.

Die groot dilemma is dat dié kinders nie die nodige dokumente het nie omdat binnelandse sake weier om hulle sonder ’n bewys van voogdyskap te registreer.

Die nasionale en Gautengse onderwysdepartement het die aansoek dat minderjariges in openbare skole geregistreer word nie teengestaan nie.

Neo Chokoe, regsverteenwoordiger van die organisasie Regslui vir Menseregte (RMR), het gesê weens die uitspraak kan kinders in openbare skole kom, al het hulle nie die nodige dokumente nie.

Die hof het ook gelas dat die onderwysminister binne ses maande die toelatingsbeleid wysig om in pas met die Grondwet voorsiening te maak vir die kinders van vlugtelinge of asielsoekers.

Chokoe het gesê die organisasie is bly dat kinders wat byvoorbeeld meer as ’n jaar nie skoolonderrig gekry het nie nou kan skoolgaan.

Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), het gesê dit is onbillik dat skole met dié probleem opgeskeep moet sit. Hoofde kon vervolg word as hulle leerlinge sonder dokumente toegelaat het. Volgens Deacon is daar groot druk op skole om aan bestaande eise te voldoen ten opsigte van onderwysers, kapasiteit, voedings en gesondheidsprogramme.

Nomusa Cembi, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou), meen die departement sal onderwysers moet voorsien wat dié buitelandse leerlinge se tale kan praat. “Die leerlinge sal uiteraard skole bywoon wat geen skoolgeld hef nie en die departement sal hulle beter moet subsidieer.”

Volgens Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), het alle skole beperkte water-, sanitasie-, veiligheids en onderwyservermoë. Dié pligte kan nie al hoe meer op skole afgeskuif word nie.

Date of publication: 
1 May 2013
Source: 
Beeld